|
Lys van Doc Immelman se boeke sluit in:
- Blits - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die beestrek - 1974 / 1980 / 1982 / 1983 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die beste van Doc Immelman - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die Buffeljagter - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die bul van Kashimbo - 1973 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die Doc Immelman Omnibus - 1979 - Avontuurverhale in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die groot maroelas - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die hart van ‘n man - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die jagstewels en ander verhale
- Die Krokodille van Manyondo (Groot druk) - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die leeu van Okurasewa - 1993 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die safari na Omukwai -1963 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die soektog - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die tier en ander verhale - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die tyd van die klippe - 1971 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die Vallei van die Heilige Vuur - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die Vloek van Kupferthal - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die voortvlugtigdes - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die wildeperde van Jakkalsgraf - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die wit hings van die Namib - 1966 / 1975 / 1985
- Die wrak van Adolf K. Freimut - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Die wrede somer - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Huurvlug 14 van Windhoek - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Kersfees in Carmona - 1985 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Kurt Mauser - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- Lategan se goud - 1988 - Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman
- ‘n Kwartmiljoen Mauserpatrone - 1973

- ’n Seisoen van romanse - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Nege grafte tot Otjihonge - 1970 - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Onheil in die Kuiseb - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Onseker liefde - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Seevaart van verraad - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Shondoro - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Skatte van goddeloosheid - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Twee honderd gewere - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Vallei van heilige vuur - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Verhale uit Suidwes - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Vlamme in die Namib, 1963 - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Vyf waens na San Pedro - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Wind oor die Khomas-Hochland - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
- Wraak van die wildernis - Namibiese avontuurverhaal deur Doc Immelman
Klik hier om ‘n kort biografie van Doc Immelman te lees
Foto’s: Doc Immelman
Voorblaaie van : Vyf waens na San Pedro & Die Groot Maroelas - Doc Immelman

Blits -Doc Immelman met die eerste uitgawe in 1970 en toe 1985, 1986 en 1987,1988, 1989

Die Beestrek -Doc Immelman
Hierdie is ‘n avontuurverhaal vir die jong lesers soos net Doc Immelman kan.
Bennie Bronkhorst en sy Engelse vriend, Charles Wilson, moet Bennie-hulle se beeste na die noodweidingsgebied neem – ‘n trek van twee weke met die beeste. Die twee moet dit op eie houtjie doen, want Bennie se pa het sy been gebreek.
En watter uitputtende en spanningsvolle avonture maak hulle nie deur nie! Daar is ‘n gekweste leeuwyfie en ook wildehonde wat snags die beeste probeer vang, Herero’s wat beeste wil steel. En wat is die geheim van die kluisenaar van Spookberg, die man oor wie almal fluister?
In sy kenmerkende onderhoudende verteltrant laat Doc Immelman die twee karnallies lewe en saam met kleurryke karakters sorg die twee seuns vir ‘n boeiende avontuur. Doc Immelman is ‘n storieverteller en vertel sy stories van Suidwes-Afrika so eenvoudig en eerlik en akkuraat soos hy kan - sonder oordrewe en valse, aangeplakte drama. Dit is waarskynlik die rede waarom Doc Immelman se stories so gewild is. Die leser kan hom of haar identifiseer met die fiksie-karakters in die skrywer se verhale Hulle kan hul indink en inleef met die persone wat ‘n rol speel in Doc Immelman se boeke. Die Beestrek stel nie telleur nie en is so ‘n boek.


 Die Beste van Doc Immelman 1994 uitgegee deur J.P. van der Walt uitgewers
Met 16 kortverhale insluitend
- “Dona Lucia”
- “Oom Jan en die 1000 karaat”,
- “Maras”
- “Een meisie en drie kêrels”
- “Twee dae by Kaitchavlei”
- “Die Dobbelaar van Otavi”
- “Die leeu van Cahama”
- “Sonder bloed aan my hande”
- “Vere en die voël”
- “Shondoro”
- “Die sagte man”
- Kersfees in Cremona”
- “Die ongeluksvoël”
- “Die groot sand”
- “Wilskrag”
- “Die tier”
Elkeen is deur die skrywer self gekies uit die groot verskeidenheid verhale wat deur die jare uit sy pen gevloei het.
Van die bydraes het in bekende tydskrifte verskyn. Dit is veral oor sy geliefde Namibie en die jagveld dat Doc Immelman op sy beste vertel.


 Die Buffeljagter Avontuur, romantiek en manlike drif, Namibië se ruimtes - dit is die kombinasie waarmee Doc Immelman se vreeslose skrywershand dekades al sy meer as 30 000 lesers gevange hou.
Self ´n jagter, skryf Immelman uit eerstehandse ervaring. In sy romans bly die harde verlatenheid van die land noordwes van Suid-Afrika ´n werklikheid. Droefheid in Bill Abraham se lewe veroorsaak ´n krisis wat hom laat twyfel of hy sy naam van Die Buffeljagter nog gestand kan doen. "Ek droom van ´n groot swart buffelbul met die dood tussen sy horings en ek hoor hoe die wind oor my graf waai."


Die Bul van Kashimbo
Peter Hopkins is 'n ryk man wat al sy gesinslede behalwe sy beeldskone dogter, in 'n motorongeluk verloor het. Nou probeer hy Gert Rousseau se staal toets voor dié man sy dogter, Mary, van hom af kan wegneem...
Hopkins is 'n impulsiewe mens en as hy eers besluit het om iets te doen doen hy dit gewoonlik - op sy manier. Maar hierdie saak is dringend en net een mens sal kan help: sy ou vriend Hendrik Meyer.
Die alleenloperolifantbul van Kashimbo op wie se spoor die aantreklike, maar ruwe jaggids, Antonio de Souza die jaggeselskap stuur, is gekwes.

En 'n gekweste olifant is in alle omstandighede 'n ongemaklike ding. Hopkins is 'n redelike jagter maar het min ondervinding van gevaarlike wild, en die jong Gert Rousseau - wat moet wys wat in hom steek - het nie ervaring van jag nie.
'n Paar weke van doodspanning!
Doc Immelman neem die leser op 'n reis deur Angola se jagvelde. Maar, soos die leser Immelman ken, eindig die storie nie daar nie: Daar is groot drama op die jagveld, probleme met insurgente en 'n herontdekking van die liefde.



Die Doc Immelman omnibus
Alhoewel op die omslag Tweehonderd gewere, ‘n Seisoen vir romanse, Skatte van goddeloosheid, Kom dans, Klaradyn aangedui is, toon die inhoudsopgawe slegs 3 verhale.
Die drie stories in die omnibus vervat is:
- Tweehonderd gewere
- ‘n Seisoen vir romanse
- Skatte van goddeloosheid
Die Groot Maroelas
Vroeg een oggend, toe die maroelas nog swart teen die lug afgesteek het, het Hans Wagner sy blou Mauser geneem om ‘n leeu te gaan skiet wat in ‘n slagyster gevang is. Die ongedierte is maklik van kant gemaak, maar onverwags het daar ‘n jong leeutjie verskyn en Hans se been lelik seergemaak. Die skoot wat na hom geskiet is het, net sy een oor afgeruk en daarna het die leeutjie weggekom. Petrus, Hans se veertienjarige seun, sweer wraak op die boosdoener, en van nou af sou hy elke skoolvakansie na die eenoor-leeu soek.
Dit is ‘n soektog wat baie lank duur en in daardie tyd word nie net die leeu groot nie, maar ook Petrus groei op tot ‘n jong man. In die skynbaar alledaagse lewe op so ‘n Suidwes-plaas is daar baie dinge wat ‘n seun brei. Dis harde werk, wanneer ‘n mens drie dae in die saal is om beeste aan te jaag, die vreugde van die jag, of as jy per ongeluk ‘n verbode eland skiet en ontdek dat die polisie vir jou kom kuier het! Belangriker nog is die mense: sy vader, moeder en suster Heidi.
En veral natuurlik Martie, die meisie op die buurplaas na wie hy eers minagtend verwys het as een van “daardie Angolas”. Die mooi verhouding wat daar tussen hulle groei moet allerlei storms trotseer, veral as ‘n baie wêreldwyse nooientjie haar flikkers vir Petrus begin gooi. Maar Petrus en Martie is albei kinders van hierdie land, en wat bymekaar hoort, sal op die ou end bymekaar uitkom.

Die Jagstewels en ander kortverhale
‘n Eensame weduwee op ‘n Suidwes plaas sit met ‘n ongewone probleem. Haar oorlede man se jagstewels in die brandkas. Sy sou graag weer wou trou maar dit was sy uitdruklike wens dat die man wat haar wil hê, eers sy voete in die stewels moet steek.
Dit is een van die buitengewone situasies wat in hierdie bundel kortverhale uitgebeeld word. In die regte Immelman-tradisie is daar ook meevoerende avontuur verhale. Doc Immelman kan ‘n storie vertel! Lewendig en onderhoudend, en geplaas teen ‘n outentieke Suidwes agtergrond. Teen die tyd weet almal dat Doc Immelman se naam sinoniem is met goeie leesstof.
Die verhale in die boek is:
- Die jagstewels
- Die meisie op die bus
- Die liefde vergeef alles
- Die somer van Heinrichsbaai
- Die ou man en die seun
- Die maalstroom
- Die man van Waaibosch
- Projek SWA-6


Die Krokodille van Manyondo (Groot druk) (Die storie is ook in Doc Immelman se boek “Die voortvlugtiges” vervat
Die onverskrokke Afrikaanse ontdekkingsreisiger, koerantman en skrywer, doktor Ken Burger, gaan ondersoek instel na die geheimsinnige krokodilmense van Manyondo, iewers langs die Okavangorivier. En hy wil niemand anders as die vermaarde Windhoekse safari-leier Jakob Maartens as sy gids vir die ontdekkingstog hê nie. Hoewel Jakob aanvanklik taamlik langtand byt aan die gedagte, voel hy tog teen sy sin geneë tot die flambojante doktor Burger toe hulle mekaar ontmoet, en stem in om die ekspedisie te lei. Of het die feit dat Burger se beeldskone verloofde, Linda Clayton, die tog gaan meemaak, die deurslag gegee?
Jakob leer spoedig die ander sy van Ken Burger ken, en dit is nie ‘n mooi prentjie nie. Al wat hom egter verhinder om die ekspedisie te verlaat, is sy toenemende aangetrokkenheid tot Linda…
Doc Immelman se harde maar tog romantiese Suidwes van weleer herleef in die en die ander twee novelles in die bundel, “Die affêre op Okasino:” en “Die tuiskoms van Zack Becker”.

Die Leeu van Okurasewa
Op Okurasewa is alles nie pluis nie. As Wolfgang Stroebel die hulp van sy ou vriend, die beroepsjagter Tom Maartens, inroep om die skrikbewind van ´n vermeende mensvreterleeu te beëindig, word Tom dadelik met ou én nuwe spoke gekonfronteer.
Nie net ontglip die gevreesde maanhaar, met ‘n skewe voorpoot maar met die vernuf en die redenasie vermoë van ‘n mens, hom keer op keer op onverklaarbare wyse nie – ook in die Stroebel- huishouding draai die duiwel rond en tart Tom se verlede hom telkens in die gestalte van beeldskone Maria Stroebel, wie se huwelik duidelik wankel onder die druk van die boerdery. Hoewel die plaasvoorman, Adolf Freimut, skynbaar die leisels stewig vashou, is daar iets verdag omtrent dié arrogante jong Duitser – en ook oom Wolfgang se sekretaresse, June Crosby, blyk ´n slinkse geaardheid agter haar bril en bolla te verberg. Boonop is Theresa Stroebel lank nie meer die rabbedoe-tiener wat Tom van sy vorige besoeke onthou nie, maar ´n sjarmante jong dame met ´n uitgesproke wil …
Is die mensvreterleeu werklik die bron van die spanning tussen die Stroebels – of die rookskerm waaragter groter kwaad gestook word? En sal Tom daarin slaag om die dreigende krisis suksesvol af te weer?


Die Tier en ander verhale:
Soos die meeste van Doc Immelman se verhale , speel die drie kortverhale ook af teen die agtergrond van sy geliefde Suidwes-Afrika (Namibie soos dit vandag bekend staan)
Groot gedeeltes van die verhale neem ons terug na die jagvelde van sowat twintig, dertig jaar gelede met ’n goeie skoot romanse daarby toegevoeg.
“Die Tier” is die verhaal van Rynard Bierman en sy vrou Alida in ’n tydperk wat hulle huwelik begin wankel en die verlange na Suidwes (deesdae Namibië) vir Rynard te veel word. Deur ’n sameloop van omstandighede is dit juis dié land wat hulle weer bymekaar bring.
In “Die vasgekeerdes” is dit weereens die ongereptheid en die afgeleë omgewing wat tot gevolg het dat mense magteloos teen die natuur te staan kom. En terselfertyd probleme skep én oplos.
Die humoristiese “Vuurdoop voor die bruilof”, vertel die verhaal van ’n bruidegom wat enkele dae voor sy troue deur sy onhebbelike vriende na die jagveld gelok word. Met ’n kwaai aanstaande skoonma en die gereg om mee rekening te hou, is dit nogtans 'n goeie vraag of hy betyds vir sy bruilof gaan wees...
Lees ook verhale deur Sangiro

Die Tyd van die Klippe - eerste uitgawe was in 1968
Die boek begin met’n aanhaling uit die Bybel - Prediker 3:1-5
1. Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: 2. ’n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, 3. ’n Tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, 4. ‘n Tyd om te ween en ‘n tyd vir lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring’ 5. ‘n Tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing”,
Markus Dreyer was veertien dae op pad uit die suide waar sy ouers vermoor is, en in die Oppermans se groot voorkamer moet hy hoor dat sy oom, die enigste familie wat hy oorhet, ´n perd gesteel en verdwyn het. Toe Opperman, die jagkoning onder die Angolaboere, hoor dat Markus ook gejag het, besluit hy dat Markus moet bly. Miskien was dit die meisie met die koperbruin hare wat vir hom die deur van Opperman se huis oopgemaak het, wat Markus laat besluit om dan wel te bly. Miskien is dit net van nie weet waarheen verder nie? In elk geval sien hy die jagekspedisie saam met haar pa die kans om te verdien en weer selfstandig te raak. Hy het nie besef dat dit nie slegs ´n kwessie is van olifante doodskiet nie. Hy moet nog agterkom watter houvas Opperman op sy jagters het, en party van die teenkanting teen hom het hy nog glad nie verstaan nie.
 Die Vallei van die Heilige Vuur ’n boek geskryf deur Doc Immelman
Wanneer Piet Greeff in sy Land Rover in die skaduwees van die pieke en skurwe kranse van die Erongo-berge opdaag met as enigste metgesel die Damara Henrik, is daar niks wat hom laat besef dat hy getuie van en deelnemer aan ‘n groot familiedrama gaan word nie. Want tussen die Jacobse en die Frankes, bure, is die verhouding nie normal nie. Voeg hierby ‘n beedskone dogter in elke familie, Elsa Jacobs en Renate Franke, en die geheimsinnige verdwyning van Adolf Franke, en al die elemente van ‘n spanningsvolle Doc Immelman-verhaal is aanwesig.
Was Adolf Franke die oorsaak van Elsa Jacobs se liefdesterleurstelling? Wat maak Renate Franke so verbitterd? Bowenal: wat het hier geword van Adolf Franke? Watter rol het die verleidelike rooikop-Ier Cynthia Brehany in die hele geskiedenis gespeel?
Dit is die situasie waarin Piet Greeff hom bevind wanneer hy kom om ondersoek in te stel na die moontlikheid van die bou van ‘n dam. Maar aan hom word ‘n groter tol toegedeel: Dit is hy wat die geheim van Adolf Franke se verdwyning sal oplos. En dalk gebeur ook ander dinge met hom in die vallei van die heilige vuur.


Die Voortvlugtiges
In Die Voortvlugtiges skep Doc Immelman op gebruiklike wyse ‘n situasie wat tot oorlopens toe gelaai is met spanning en intrige en die leser van begin tot einde sal boei. Dit begin op Doringpan, skynbaar ‘n afgeleë lewelose dorpie in Suiwes-Afrika. En tog kry die plekkie oornag meteens ‘n geweldige bekoring vir verskillende mense wat ‘n mens nooit daar sou verwag nie. Waarna is hulle op soek? Dit is wat die polisie ook graag wil weet. En die aantreklike safari leier Petrus Senekal is die aangewese persoon om hulle hiermee behulpsaam te wees. Ken hy dan nie die omgewing deur en deur nie? Iewers – so word vermoed is daar ‘n plek waar voorvlugtige saboteurs en Kommuniste die grense van die land oorsteek.
Gou besef Petrus Senekal dat dit egter geen maklike takie is nie. Nie alleen is die voortvlugtiges van die gevaarlikste kalante wat jy jou kan voorstel nie, maar die tussenkoms van twee mooi nooiens bemoeilik boonop sy taak aansienlik. Die verslaggeefster Bettie Naude is sonder twyfel die mooiste entjie vroumens wat Senekal nog ooit teegekom het, maar is sy werklik wat sy voorgee? En waar pas die opwindende Miriam Veitz in?
Daar is ook ‘n tweede verhaal in die boek - ‘n kort riller, “Die Krokodille van Manyondo”, in tipiese Doc Immelman styl. (Die storie is ook apart in groot druk uitgegee)
Die Wilde perde van Jakkalsgraf ’n boek geskryf deur Doc Immelman
Dit is 1905 in Windhoek, Duits-Suidwes. Die kampioenskut George Coezyn tree op sy pragtige wit Arabier as cowboy in ’n sirkusvertoning op en beïndruk Naas Breytenbach met sy toertjies en skietvernuf. Hy willig in om as perdeteler vir oom Naas op Hudap by die Kuisebrivier te gaan werk.
Heel gou kom George agter dat dinge op hierdie eensame plek van ruwe rotse, skurwe berge en afgronde nie pluis is nie, en dat Breytenbach hom eintlik met ’n spesiale doel soontoe gelok het. Waarvoor, weet hy nie. Wat lê agter die verskriklike angsdrome wat Naas en Gertruida se seun Bertus af en toe so teister...en hou dit dalk enige verband met die onverklaarbare selfmoord van hulle oudste dogter Hendrina? Dan is daar nog die raaiselagtige optrede van oom Naas self...
Voordat George kan padgee van hierdie onheilsplek af, beland hy in ’n konfrontasie met die roekelose skurk, Klaus Mozart, en Dick Penderis, die fyn jong Nellie Breytenbach se verloofde.
Dit lyk vir George asof hy die meisie van sy drome – vir wie hy nog nie eens besit nie – sal moet prysgee. En dit deur sy eie nalatigheid. Maar dan onthou hy van die toertjies uit sy sirkusdae, en sy vernuf neem oor...
 Die Wit Hings van die Namib - eerste uitgawe 1966 en sagteband 1975 / 1982 ’n boek geskryf deur Doc Immelman
Dis ‘n onherbergsame woestyn-wêreld en daar is geen pad of water nie. Bedags is dit skroeiend warm en snags ysig koud. Min mense waag dit tot daar en selfs al kom hulle daar, hou hulle dit nie lank uit nie. Dit is die wêreld van die Wit Hings, spookperd van die Namib, ‘n legendariese dier wat in die woestyn woon en besoekers verwilder. DIt is na hierdie hings wat die verstrooide geleerde, doctor Robert Tredoux, soek. Om die geheim op te los , moet hy en sy twee mooi dogters eers ‘n vergete grot met die Boesman tekening van die skimperd opspoor.
Wanneer hulle die grot uiteindelik vind, stryk daar ook ‘n vliegtuig met twee verdagte persone neer. En dan begin die spanning oplaai, want in die geheimsinnige diamantwêreld kan enigiets gebeur en êrens is daar iets nie heeltemal pluis nie…
Die boek bevat benewens “Die Wit Hings van die Namib” ook ‘n novelle “Die Tuiskoms van Zack Becker”. Dit is ‘n ewe tipiese Suidwesverhaal maar hierdie keer met die liefde as tema. Ook hierdie novelle is deur kritici aangeprys as uitmuntende onspannigslektuur, die stempel wat Doc Immelman op al sy werke afdruk. Wie lus het om ‘n intelligente en tegnies goedversorge verhaal te lees, sal die Wit Hings van die Namib ‘n besondere boek vind.
Inhoud:
- Die tuiskoms van Zack Becker
- Die wit hings van die Namib


Die Wrak van die Adolf K. Freimut ’n boek geskryf deur Doc Immelman
Wat kan dit wees wat Robert Wicks so intens laat belang stel in die wrak van die Adolf K Freimut – ‘n stuk ou, verroeste metaal wat eens ‘n skip was, maar wat nou al jare lank onder die siftende woestynsand van die Seekus van die Dood verborge lê? Is dit bloot ‘n voorwendsel van Wicks om die konsessie-gebied van ‘n internasionale ontginnigsmaatskappy binne te dring en hul groot ontdekking voor hul neuse weg te raap?
Dit is die groot vraag wat Wolf Herbst se gedagtes besig hou. As hy die antwoord op al die ander vrae wat deur die gedrag van Wicks en sy metgeselle gewek word. En daar is inderdaad baie vrae. Want van die oomblik dat Wolf se eensame bestaan as veldgeoloog in een van die mees afgesonderde hoeke van Suidwes deur die Wicks-menage binnegeval word, volg die gebeure mekaar vinnig op. Hierdie is ‘n “lekker lees” boek wat boei, en wat ook nog af toe sorg vir ‘n koue rilling teen die ruggraat af.

Die Wrede Somer ’n boek geskryf deur Doc Immelman
‘n Geskiedkundige verhaal: Die wrede somer, sy 36 ste roman, speel in die jare 1927 tot 1928 in die Namibiese hinterland af. In Fahlplatz se opstal groei die spanning tussen pa en seun en tussen man en vrou terwyl daar ´n groter stryd buite begin woed...
Huurvlug 14 van Windhoek ’n boek geskryf deur Doc Immelman
Die passasiers het Huurvlug 14 van Windhoek om wyd uiteenlopende redes aangepak - daar was Jan Beyleveld, Naas Ackerman, Yvette Schulz, Karen Wagner, Patricia Masters, Frank Gerber en die Owambo Dawid Hanai.
En daar was ook die klein mannetjie Roberts, verskeur tussen lojaliteit teenoor die organisasie en toewyding teenoor sy gesin . Maar om sy gesin te red, moes hy sy taak uitvoer: om Huurvlug 14 te kaap en die vliegtuig na Zambië te dwing.
Roberts het geen keuse gehad nie, daarom was hy van plan om sy taak suksesvol af te handel. Dit was nie sy skuld dat dinge verkeerd geloop het nie…
Huurvlug 14 van Windhoek is ‘n spannende verhaal in die ware Doc Immelman –tradisie. Dit vertel van die ontberings van ‘n groep mense in ‘n wrede, vyandige deel van Afrika, vol meedoënlose terroriste, landmyne en geweld.
Lees ook verhale van Suidwes deur Sarah du Pisanie
Lees ook verhale deur Rein Pretorius
Lees ook verhale van die Groot Trek deur F.A. Venter


Kurt Mauser ’n boek geskryf deur Doc Immelman
Die gefluit van die loko klink skril deur die nag en die wiele van die rytuig teen die staal spore skreeu as die trein rukkerig om ‘n draai beweeg. “Ek het jou gewaarsku teen gierigheid, bedrieery, diefstal en geweld, Markowitz…Jy het nie gehoor gegee nie. En nou is dit te laat…” “Wat! Jy praat Afrikaans en Duits…?” “Ek praat baie tale, Markowitz…” “Jy dra die klere van ‘n predikant. Maar jy is nie ‘n predikant nie!” “Ek is baie dinge…” “Jy is nie eerwaarde Keith Manfield nie? Wie is jy, wat is jou naam?” “Ek het baie name Markowitz. Party mense noem my Kurt Mauser…”
Uit die vroeë twintigerjare van hierdie eeu ry ‘n lang, lenige Suidwester op ‘n groot swart perd die gebied van Afrikaanse fiksie binne. ‘n Bebaarde ridder met breë skouers, ‘n kampvegter teen ongeregtigheid, ‘n vriend van verontregdes en die vyand van swendelaars en booswigte: Kurt Mauser.
Lategan se Goud geskryf deur Doc Immelman
Dit is ‘n mal plan waarmee hierdie skatryk Portugees vorendag kom : daar ver in Angola, in ‘n ruie kloof suid van Mavinga, is vier land-Rovers vol transvaalse bladgoud versteek. Maar dis ‘n miernes van swerwende rowerbendes, Kubaanse en MPLA-soldate…en die Portugees wil hê hy, Uys Barnard, moet sy lewe waag om daardie goud in Suidwes in te smokkel…

‘n Kwartmiljoen Mauserpatrone
Nadat dit aan die lig gekom het dat ‘n boer, ene Piet Ludeke, binne ‘n kort tydjie duisende Mauserpatrone gekoop het, word Wynand Senekal, wat lid van die Suid-Afrikaanse Geheime diens is, na Suidwes gestuur. Dit blyk ook dat Ludeke wie se plaas naby die grens van Botswana lê baie meer beeste bemark as wat hy besit. Wynand word deur speursersant Beukes tot by die omgewing van die plaas gebring en hulle bespied die plaas ‘n dag lank deur verkyers.
Teen sononder sien hulle ‘n stofdamp nader kom. Dit is ses ossewaens, kompleet met trekosse en touleiers, vergesel van ‘n paar bebaarde manne te perd. Wynand voel meteens asof hy honderd jaar in die verlede teruggeplaas is. Wat daarop volg is soos ‘n koorsdroom of soos ‘n grap wat te ver gevoer is. Doc Immelman het met hierdie verhaal weer sy meesterskap getoon. Dis ‘n verhaal wat diep in ons land se geskiedenis gryp en tog so aktueel soos vandag se nuusflitse is.
Lees ook verhale van die Groot Trek deur F.A. Venter
Lees ook van die Trekkers deur Wille Martin
Lees ook verhale deur Rein Pretorius
‘n Seisoen vir Romanse geskryf deur Doc Immelman
Daar is min ruimte vir blink liggies en deftige uitrustings in die wêreld van ‘n veldwagter. Maar plek en tyd vir romanse is daar oral in die wêreld…Ook in die hart van die groot sterk veldwagter, Awie Tredoux van Mashara in die Etosha Wildtuin, breek ‘n seisoen vir romanse aan – veral as die romantiese figuur ‘n pragatie swarkop met blink bruin oë is en Ansie heet…Beryl Smith van die Kaap, is vir drie maande in Mashara-kamp om navorsing te doen.
Sy pas gou by die kamplewe aan en gaan rustig voort met haar taak. Deur die toedoen van oom Stoffel, hoofveldwagter van Mahsara, kan sy egter kom en gaan soos sy wil en gaan dikwels saam met Awie op veldritte. In die stilligheid en half teen sy sin, bewonder hy vir Beryl so bietjie omdat sy so rustig is en haar so gemaklik by haar omgewing aanpas. Sy het ook ‘n uitsonderlike uitgebreide kennis van die diere en die veld. Hy voel altyd tevrede en ontspanne in haar geselskap. Maar sy is nie naastenby so mooi en opwindend soos Ansie nie – Ansie wat die bloed deur sy are laat bruis! Sy is onweerstaanbaar en hy laat geen geleentheid verbygaan om haar te sien nie.
Maar ‘n meisie kan ook ’n plan maak en strikke stel en veldwagters om die bos lei! Teen die agtergrond van die ongereptheid en uitgestektheid van Namibie en met sy uitgebreide kennis van die veld en sy diere, vertel Doc Immelman twee romantiese verhale oor die lotgeval van veldwagters en hul hartsake.



Nege Grafte tot Otjihonge geskryf deur Doc Immelman
Bokant die fort by Windhoek wapper die oorlogsvaandel van die Duitse Ryk. Dit is 1904 en oorlog in Duits-Suidwes-Afrika. Die groot Ova-Herero nasie het besluit om die juk van die wit man af te gooi. Soos die dood self het die Herero’s uit hul vestings gekom en gemoor, geroof, onteer, geplunder, gebrand…Duisende Duitse troepe het die land binnegestroom, maar daar was eenvoudig nooit genoeg wit soldate nie en die het die land geken – die paaie, die trekspore, die watergate, die berge…
Wessel Myburgh het ook die land geken, omdat hy daar grootgeword het. Daarom word hy deur die Duitse bevelvoerder in Windhoek ontbied om ‘n militêre vrag na Otjihonge te vergesel.
Wessel besef baie gou dat dit geen eenvoudige taak is nie. Die Duitse luitenant is hooghartig en het gaan begrip van die harde werklikheid van die land nie. Die dertig Duitse soldate is jong seuns, skaars ‘n maand in die land. Die vrag bestaan uit ‘n groot klomp geld en ammunisie vir Otjihonge – en drie vrouens. En Wessel weet dat die Herero’s êrens wag.
Wanneer die trek die Duitse garnisoenspos na ‘n moordende tog bereik, wemel dit daar van Herero’s, onder aanvoering van Tjiwera, die kaptein wat vir die moord op Wessel se vrou verantwoordelik was. Maar by die fort self is alles onheilspellend stil. Was die nege grafte wat hulle op pad in die Suiwessand agtergelaat het, dan tog tevergeefs?
Onheil in die Kuiseb geskryf deur Doc Immelman
Daar dreig Onheil in die Kuiseb. Eers is eerwaarde Quitzow-hulle op die sendingstasie by Horabis uitgemoor en toe word Andries Kirsten en sy werkers op die kopermyn by Goroab koelbloedig doodgeskiet.
Niemand kan eintlik verstaan at die rede vir die onverwagse skrikbewind is nie. Die boere in die gebied dink nie dat opperhoof Vlermuis van die Topnaars sommer mense sal laat vermoor nie – hy was hulle nog altyd vriendelik gesind. Maar dis daardie seun van hom, reken Danie Hugo, jong Suidwes-boer seun, daardie Petrus-Keib wat in elk geval ‘n moordenaar en ‘n dief is. Hy het mos gesê die Duitsers sal nooit oor hom regeer nie.
Om verder gruweldade te voorkom, ruk ‘n Duitse patrollie teen die Topnaars op en Luitenant Imke slaag daarin om al Vlermuis-hulle se wapens by Tseikap te vernietig. Maar vir Petrus-Keib kan hulle nie vastrek nie. Met ‘n klompie makers vlug hy die berge in.
Wanneer ‘n skurk soos Louis Rousseau ook nog sy verskyning maak, vermoedelik op pad na die Topnaars en vermoedelik met Engelse gewere en drank en sersant Linden en die twee man wat agter Petrus-Keib aangestuur is, boonop spoorloos verdwyn, besef almal dat daar groot moeilikheid is. Met Onheil in die Kuiseb laat Doc Immelman nie net die Duits-Suidwes-Afrika van 1905 herlewe nie, maar hy skep ook ‘n spannende verhaal van mense se hartseer en vreugdes, van afskeid neem en nuut begin, en van wreedheid en deernis.
Onseker Liefde geskryf deur Doc Immelman
As ‘n mens jonk en verlief is, sien jy kans vir baie dinge. Arlene was jonk, en baie verlief op Jac Leyenaar, die jong rebelse Afrikaanse skrywer. Sy het geglo dat hulle liefde vir mekaar alles kan oorwin. Sy het kans gesien vir die stories oor sy slegte reputasie met vroumense, sy liefde vir sterk drank, en sy finansiële onstabiliteit. By hom was die lewe prikkelend, opwindend, ‘n wonderlike ondervinding. ‘n Lewe daarenteen saam met Leon Vermaak, wat haar so graag wou hê, sou bestendig, maar uiters vervelig wees.
Maar hoe kan sy aan Jac se liefde en trou glo as sy Sofia, met slegs Jac se kamerjas aan, in sy woonstel aantref? Hoe kan hy vir haar finansiele sekuriteit bied as sy boek deur die kritici en publiek verwerp word? Kan hy werklik wegbly van drank?
Wanneer Arlene uiteindelik heeltemal vertroue in hulle verhouding verloor, stort albei se wêreld ineen. Sonder mekaar kan hulle ook nie lewe nie. Maar hoe sal hulle mekaar weer vind? Kan hulle onseker liefde ooit sekerheid word? Lees Doc Immelman se aangrypende verhaal van twee jongmense wat mekaar eers moes verloor om mekaar te kon vind.


Seevaart van Verraad Eerste uitgegee onder skuilnaam Rya Avenant
Alba Roodt, lid van die Geheime Diens, kry opdrag om met ‘n luukse lynboot vanaf Kaapstad na Lourenco Marques te vaar sodat sy die geheime lys wat aan een van die passasiers oorhandig gaan word, kan onderskep.
Spoedig maak sy ook kennis met Stefan Wagner. Om sy guns te wen en geen agterdog te wek nie moet sy met hom flankeer. In die agtergrond is daar ook Magnus Scannel, wat gedurig oor Alba wag hou. Aan spanning en verrassende intrige ontbreek dit nie. Hierdie is ‘n avontuurverhaal wat ver bo die gewone uittroon. Die leser word op elke bladsy geboei en meegevoer tot by die verrassende slot.

Shondoro (en ander kortverhale)
Voorblad van Shondoro - 1965 uitgawe asook 1966 uitgawe - deur Doc Immelman
Toe Jakob met die koedoekalf by die huis aankom, is al wat leef in rep en roer. Die koedoe moet opsluit bly. Sy bene is uitermate lank, sy kop belaglik groot en sy oë vreesbevange en wild. Soos Jakob sê –
‘Hy’s oshondoro oshinene – baie wild”. So kry Shondoro sy naam.
Hy word gou mak, maar soos alle hansdiere vang hy stoute dinge aan en maak Jannie en Pietie se pa so kwaad dat hy kort-kort dreig om die kalf weg te maak. En toe kom die reën. Een aand met sonsondergang begin die weer rammel. Shondoro gaan staan en lig sy neus, want iets roep hom…
Die kortverhale in Shondoro speel af in Suidwes-Afrika. Die gees van die jagveld en wydheid van die natuur word met ‘n fyn waarnemingsvermoë uitgebeeld deur iemand wat die wêreld en sy mense ken.
Hier volg die kortverhale in die boek:
- Elandsbiltong vir die Kapenaars
- Topsy
- Oom Jan en die groot gemsbokke
- Shondoro
- ‘n Hond vir Bertie
- Twee eende vir kersfees
- Die wraak van Abraham Labuschagne
- Vere en die voël
- Beslissing op Etosha
- Die sagte man



Tweehonderd gewere geskryf deur Doc Immelman
Die agtergrond van hierdie verhaal is die Hottentotte-opstand in Suidwes, vroeg in hierdie eeu, toe die Hottentotkaptein Hendrik Witbooi gesweer het om elke blanke in die gebied te vermoor.
Die hooffiguur, Tjaart van der Walt, moet twee maande van sy ouers se plaas afwesig wees. By sy terugkoms vind hy drie vars grafte en die rokende oorblyfsels van hul opstal...
Lees ook Karl Kielblock se boek(die lafaard) oor Hendrik Witbooi asook Rein Pretorius se boek (Ruiters van die duine) oor die opstande gelei deur Hendrik Witbooi

Vyf waens na San Pedro (hardeband 1966) geskryf deur Doc Immelman
Zak Marais – aantreklike, legendariese beroepsjagter en met ´n afdraande reputasie, ´n groot skuldlas en ´n verlede vol skimme. Alvaro Duarto Gomez – oud-kaptein in die Portugese leër en streeksoffisier in Angola – wat met gierigheid en wreedheid´n skrikbewind rondom die fort in San Pedro voer. Elize Foxcroft – kameebeeldskone Engelse lady met hardkoppige deursettingsvermoë, vreeslose oortuiging en net een doelwit: om met Zak Marais se hulp haar skatryk vader uit Alvaro Duarte Gomez se kloue te red.
Plaas dié karakters in die ongetemde hinterland van 1896 se Duits-Suidwes, voeg oproerige Ovambo´s, ´n bedenklike klein trekgeselskap en twee skarminkel-transportryers in die prentjie en dan ook nog struikrowers – en die toneel is ingerig vir ´n verhaal vol intrige, aksie en ´n tikkie romanse en heldemoed, soos net Doc Immelman dit kan vertel.


Wind oor die Khomas Hochland
Honderd meter links en bo hom kom die groot bul in ‘n vlaag stof agter die rotsrif uit en hardloop met lang, swewende hale teen die rant uit. Gefassineer kyk Boet na die snellende dier. Die groot, lang spiraalhorings lê oor die bul se rug en sy kop wieg ritmies met die beurende bewegings van sy kragtige skouers. Sy pote is ‘n warrelende klad wat nie met die oog gemeet kan word nie en die bewegings van sy liggaam is ‘n sterk, vinnige simfonie in die middagson.
Doc Immelman ken Suidwes, sy diere en sy mense en sy liefde vir die landstreek met sy baie kontraste spreek duidelik uit hierdie bundel kortverhale. Daar is die aangrypende verhaal van Boet en sy obsessie om die geheimsinnige koedoebul, Een-oor te skiet; daar is Rynard Bierman se soektog na die tier – ‘n soektog wat hom ook vir Alida laat vind. Wind oor die Khomas Hochland bevat volop spanning, aksie en romanse alles boeiend geskets teen ‘n Suidwes agtergrond, soos net Doc Immelman dit kan doen.

Vlamme in die Namib Avontuurverhaal in Suid-wes deur Doc Immelman Eerste druk in 1963
Liefde en avontuur in Suidwes — Doc Immelman op sy beste: ‘n noodlanding in die Namib, Iiefde waar die Etosha se gras in die wind wieg, leeujag en romantiek in Angola — dut is die ongerepte wêreld waar die jagter, die prospekteerder en die ivoorhandelaar nog saam met gevaar leef.
Doc Immelman verveel nooit. Hy ken sy wêreld en sy mense. Sy fiktiewe verhale verkry ‘n besondere werklikheidsillusie deur die outentieke, hoogs interessante agtergrond waarteen hy hulle laat afspeel.
Hy kan ongetwyfeld beskou word as een van ons beste skrywers van ontspanningslektuur. Sy beskrywing van die ontberirig van twee mense in die skroeiende woestyn sal moeilik geklop kan word.
Inhoud:
- Vlamme in die Namib
- Die wit mure van Namutoni
- Die leeu van Cahama
- Tussenspel op Etosha
- Die opslagkoeël
- Sonder bloed aan my hande



|