http:///.www.springbokboek.co.za/admin.php
|
|
|
|
|
|
Leon van Nierop - gebore 1953. Leon van Nierop voltooi sy skoolloopbaan op Brakpan, waarna hy Stellenbosch Universiteit toe is om Tale en Drama (BA) te studeer. In 1975 begin hy as omroeper/regisseur by die SAUK te werk. Hy skryf verskeie trefferradioverhale, waaronder byna 9000 episodes van Wolwedans in die skemer, Herberg vir 'n vlugteling, Stralerjakkers en Die huis in Hertestraat. ‘n Veelsydige man is hy beslis en sedert 1984 skryf hy ook verskeie TV-dramas en TV-reekse soos Ballade vir 'n enkeling I and II, Villa Rosa, Wolwedans in die skemer, Huisjakker, Moord op die lug. Hy was ook behulpsaam met die verwerking, vir televisie, van: Het van Verlangekraal, Die Hartseerwals, Laat vrugte, Die sondaar en Uitdraai en Jantjie. Hy was ook die regiseur van Skoolplaasstories en verder was hy vir die eerste 2 jaar wat die uitgesaai was, verantwoordelik vir die teks van die immer gewilde sepie, Egoli (MNet). Hy was ook verantwoordelik vir meeste van die teks van die sepie - Glaskasteel- wat op SABC 2, uitgesaai was. Hy was ook betrokke by “De Kat” saam met onder andere Nataniël Verder doen hy rolprentresensies vir verskeie tydskrifte en koerante en is hoof van die Rolprentakademie by die TSHWANE UNIVERSITEIT VAN TEGNOLOGIE. Hier lei hy jong rolprentmakers op en het ook 'n program oor S.A. kortfilms op SKY TV se NSAT-kanaal in Europa aangebied. Hy bied ook werkswinkels aan oor die maak van films. As vryskut joernalis skryf hy rubrieke, reisartikels en tydskrifverhale. Hy het reeds meer as 18 romans gepubliseer. Sy nuutste roman, “Prins van harte” het hy onder die skuilnaam, Jacqueline Brink, uitgegee.
Hotel Shwalane - 1980 Klik hier vir ‘n lys van sy boeke
“Prins van Harte” - Jacqueline Brink (skuilnaam van Leon van Nierop) Die sexy Esmarié Lategan, op 27 een van die gedugste televisie-aanbieders in die land, kry ’n opdrag om te gaan soek na die nuwe Suid-Afrikaanse man. Dié beeld van ’n man sal gebruik word om die nuwe beeld van hulle TV-stasie uit te dra. En toe sy Meneer Perfek op ’n Bolandse wynplaas ontmoet, besluit sy sy kán hom nie aan Hedwig uitlewer nie…
“Paradys” - Leon van Nierop "´n Meesleurende sage. Die onlangse dood van haar ouers spook nog by Larissa Lategan. En al trap sy diep spore in die filmbedryf as draaiboekskrywer, bring dit nie ware vervulling nie. Miskien moet sy die plaas, Paradys, eerder verkoop. Maar daar is Herman om aan te dink. Hy met sy bos blonde hare en sy vierkantige skouers en sy sterk lyf en sy blou-blou oë. Herman wat besluit het om op die plaas agter te bly terwyl sy stad toe getrek het. Wanneer ´n vreemde man egter een aand tydens ´n storm op haar drempel beland, neem Larissa se lewe ´n onverwagse wending. Want met sy eksotiese voorkoms en gespierde lyf maak die Justin emosies in haar wakker wat sy sukkel om te onderdruk.
Adrenalien - Leon van Nierop Die asem is koud in sy nek. Gustaf Prinsloo sit regop. Hy wil omdraai, maar dis of iets hom keer. Alles is pikdonker. Die teater is dolleeg. Hy is stoksielalleen in hierdie kaserm toegesluit! Hy voel weer die koue asem in sy nek. Angs en adrenalien... dis al wat die demone in Gustaf Prinsloo se onderbewussyn gevoed het... wat hom laat skryf het. Maar toe droog dit onverklaarbaar op en hy begin aan onttrekkingsimptome lei. ‘n Tragedie dwing hom tot eensame afsondering in ‘n huis in ‘n godverlate deel van die bosveld met net sy verbeelding en die beeldskone Astrid as geselskap. Dan gebeur die onverwagte; hy raak bewus van ‘n derde dimensie - en skielik is die angs terug en kan hy weer skryf. Maar hy kom agter dat hy met ‘n doel na die huis gestuur is, erger nog - hat hy onafskeidbaar deel is van die gruwels wat die huis se fondamente laat kraak het.
|